
In volle glorie het Hy gekom- saggies, onverwags.
Hy het een vir een ou, geroesde herinneringe en eina’s in my gedagtes kom bymekaar maak. In ‘n oomblik het dit gevoel asof alles nuut gemaak is. Asof vlinders en lelies om my dans en nuwe lig my hart se kamers vul. Vanaf diep binne het Sy liefde soos lewende waters gevloei.
Hy het die swaar laken gelig en my geklee met ‘n kleed van vreugde.
Soos die herinneringe van kleintyd terug-flits word dit nie meer versteek deur pyn en speit nie. Ek kan nou weer sien- die mooi, die gelukkig. Ek kan Hom sien.
Ek sien my mamma gesond en vrolik my omhels na ‘n lang skooldag. Ek sien ‘n VOL lewe: Vol harte deel om die kombuistafel, poegaai op die bank le na sportdae, krieket in die agterplaas speel saam boetie, Kersfees-liggies aand-stappies saam die Truters, by pappa leer gaatjies boor met sy groen draaibank… Ek sien ‘n lewe vol familie en vriende wat diep liefhet en omgee.
Hy plaas dan ‘n klein, fyn, goue sleuteltjie in my hand en fluister Sy belofte:” Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.” (Markus 10:29-30)
Met visie herstel van wie Hy is, dat Hy goed IS en WAS, glo ek nou met volle oortuiging dat Hy ook goed SAL wees.
Goue sleutel van beloftes in die een hand en ‘n mostertsaadjie geloof in die ander staar ek uit oor die nasies. ‘n Braafheid, ‘n hoop, ‘n wete borrel op binne my…
Hy is GOED. Hy was Goed. En GOED sal Hy ALTYD vir my wees.
